Pieter Cilliers Produksies BK bestaan, sedert 1989, toe Pieter Cilliers die SAUK verlaat het om as uitvoerende regisseur by M-Net se Carte Blanche oor te neem.
Dié produksie-huis was oor die afgelope jare verantwoordelik vir uiteenlopende programme.
- Kwêla
- Kunskafee
- Pasella
- SigNature
- Improve your Frame of Mind
- Die Groen Trust Omgewingstoekennings
- Evita’s Funigalore
- Kostrix
- Première
- Dokumentêre programme
Kwêla
Kwêla het oor die jare ‘n huishoudelike naam geword. Dié bekroonde joernaalprogram se eerste uitsending was op 17 November 1999, en met die uitsondering van herhalings wat in die eerste paar jaar se vakansie-seisoene uitgesaai is, het die span sedertdien elke Woensdagaand gesorg vir ‘n uur vol wetenswaardighede, inspirasie en humor.
Kwêla vertel mense se stories... of hulle nou bekend is of nie, solank hulle storie ander mense op ‘n positiewe wyse sal aanraak.
Ikone, rolmodelle en sterre uit die vermaak-likheids-, kultuur- en sportwêreld ken hulle sit op die Kwêla-bank, en Pieter, Rozanne en Lise kuier ook ewe gemaklik by hulle in hulle eie huise.
Baie mense verwys na Kwêla as “Coenie se program”... en ook geen wonder nie, want hy staan al tien jaar lank sy plek vol as gasheer daarvan. Oor die jare het veldaanbieders gekom en gegaan, en mense soos Shemane Harris, Maurice Carpede, Therese Benade, Lindie Stander en Eloise Cupido het saam met die produksiespan die land platgery agter stories aan.
Van Musina tot Kaap Agulhas, en van Alexanderbaai tot Port St John’s en Kosibaai.. Kwêla was al daar, en gaan weer soontoe om die merkwaardige mense van ons land se stories aan kykNETters te vertel.
Kunskafee 2000 - 2005
Kunskafee was die enigste toegewyde kunsteprogram op Suid-Afrikaanse televisie gedurende sy tyd. Die eerste uitsending was op
Sondag, 3 Maart 2000 op kykNET en dit was vir bykans ses jaar op lug. Die program het ‘n venster op die beeldende en uitvoerende kunste gebied en ook ‘n gereelde boekerubriek ingesluit. Dit het kunstenaars van oor die land ‘n platvorm gebied en, deur middel van kuns, kulture en tale byeengebring.
Kunskafee was aanvanklik geanker deur Shemane Harris en later deur Susan Booyens en Dawn Matthews. Charlene Truter, Pieter Koen, Melt Sieberhagen en Johnny Davids wa
s deur die jare veldaanbieders. Hettie Scholtz het die boekerubriek hanteer. Pieter Cilliers was die eerste paar jaar die uitvoerende regisseur en Riaan Badenhorst het later by hom oorgeneem.
Die program het ‘n toeganklike blik op die wêreld van die kunste gebied en was ewe hoog aangeskryf deur kykers, kunstenaars en kritici. Kunskafee is in 2004 deur die Arts and Culture Trust bekroon vir die ondersteuning wat die program aan kuns en kultuur gegee het. Hettie Scholtz is ook in 2001 aangewys as boekjoernalis van die jaar vir haar gereelde boekerubriek wat sy nie alleen met groot kundigheid aangebied het nie, maar waardeur sy ook die leeskultuur in die land bevorder het.
Pasella 1998 - 1999
Pieter Cilliers Produksies was die skepper van die tydskrifprogram Pasella wat in Maart 1998 die lig op SABC2 gesien het. In die beginjare het die program anders daar uitgesien. Dit was regstreeks uitgesaai en is geanker deur Coenie de Villiers. Die veldaanbieders was Shemane Harris, Susan Booyens; Derrich Gardner, Tumi Makgabo en Maurice Carpede.
Pasella is in 1999 met die ATKV-televisieprys bekroon. In dié tyd is daar jaarliks net een televisieprys toegeken vir die grootste bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in ‘n betrokke jaar.
Spanning tussen PCP en die SAUK oor onder meer die skedulering van Pasella, het daartoe gelei dat die span besluit het om kragte saam te span met M-Net se Afrikaanse kanaal kykNET. Die gevolg was die geboorte van Kwêla wat in November 1999 saam met kykNET die lig gesien het en vanjaar sy tiende verjaarsdag saam met die kanaal vier.
SigNature 1997 - 2001
SigNature was ‘n program vir Dowes (met ‘n hoofletter
geskryf as gevolg van die dowe gemeenskap se unieke kultuur) wat vanaf 19 Januarie 1997 tot 23 September 2001 weekliks op SABC3 uitgesaai is. Die ankeraanbieders was Nazereen Captieux- Bhana en Stephen Venter. Hulle is deur die jare bygestaan deur onder meer Susan Venter, Susan Moime, Bruno Drüchen en Chris Mostert. Thelma Kotzè was die program se voltydse tolk en produksiebestuurder.
SigNature was nie net baanbrekerswerk wat televisieprogramme vir Dowes in Suid-Afrika betref nie, maar toonaangewende Dowes in die res van die wêreld (onder meer akademici van die Gallaudet Universiteit vir Dowes in Washington DC) het ook daarvan kennis geneem.
Dit het ‘n unieke venster op die dowe gemeenskap, hulle verenigings en aktiwiteite gebied waar taal die botoon gevoer het. Dit was nie alleen ‘n program wat vir Dowes ‘n nuwe wêreld oopgemaak het nie, maar dit het ook gehelp om die vele mites rondom Dowes by die horende gemeenskap aan te spreek. ‘n Hoogtepunt was SigNature se besoek aan die Wêreldfederasie vir Dowes se kongres in Brisbane, Australië in 1999.
Gebaretaal is veel meer as gebare. Dit is ‘n taal soos enige ander taal, met ‘n eiesoortige sinskonstruksie, ryk woordeskat, ‘n besondere ritme, ensovoorts. Dit is nie noodwendig aan ‘n geskrewe taal gekoppel nie en in Suid-Afrika alleen is daar ‘n paar dialekte van die taal. Al kan Dowes wêreldwyd tot ‘n groot mate met mekaar kommunikeer, verskil gebaretaal in Amerika byvoorbeeld tot ‘n groot mate van die taal in Engeland. Dit is dus universeel in soverre dit met die hande en gesigsuitdrukkings gepraat word, maar tog ook eie aan elke land.
Met die vervaardiging van SigNature moes ‘n hele paar elemente bymekaarkom om dit toeganklik vir horendes sowel as Dowes te maak. Dit het onderskrifte, tolke, stemme, musiek en byklanke ingesluit.
SigNature is met twee Avanti-toekennings bekroon en Nazereen Captieux-Bhana het die Avanti-toekenning as beste aanbieder in die geselskap van horende kandidate opgeraap.
Dit was vir die dowe gemeenskap ‘n slag toe die SABC in 2001 besluit het om die program te beëindig.
Improve your frame of mind - 1996
Improve Your Frame Of Mind was die eerste
Suid-Afrikaanse televisiereeks met geestesgesondheid as tema. Die tien programme in die reeks het die volgende versteurings belig:
Post-Traumatiese Stressindroom, Eetversteuring, Paniekversteuring, Skisofrenie , Kinderpsigiatrie, Obsessiewe-Kompulsiewe Versteuring, Fobie, Depressie, Alkohol- en Dwelmmisbruik en ‘n algemene oorsig oor geestesgesondheid.
Mense wat bereid was om hulle probleme publiek te maak, het die reeks verpersoonlik en dit het grootliks daartoe bygedra om geestesversteurings te help destigmatiseer. Die reeks is juis daarom as ‘n baanbrekers-werk in die Suid-Afrikaanse konteks beskou. Shemane Harris was die aanbieder.
Die Groen Trust Omgewingstoekennings - 1995
Die Wêreldnatuurfonds se Groen Trust Omgewingstoekennings in samewerking met Nedbank, gee van tyd tot tyd erkenning aan individue, groepe en maatskappye wat ‘n besondere bydrae tot natuurbewaring lewer.
PCP het in ‘n uurlange program die 1995-toekennings vir NNTV gedek. Daarin is bydraes oor die finaliste en wenners, die WWF en ‘n eksklusiewe onderhoud met Prins Philip wat in Buckingham Paleis opgeneem is, vervat. Die aanbieder was Pat Pillai en dit is
deur Pieter Cilliers geregisseer.
Die oudiovisuele aanbieding van die 1995 Groen Trust-toekennings is ook deur PCP behartig. Prins Philip, wat sedert die ontstaan van die WWF in 1961 by die organisasie betrokke is, was die eregas by dié geleentheid.
Evita's Funnigalore - 1994
Dié dokkie-dramareeks wat uit 12 programme bestaan het, is deur die bekendste wit vrou in Afrika, Evita Bezuidenhout, aangebied en deur Pieter Cilliers geregisseer.
Na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 was die meeste nuwe politieke rolspelers aan baie Suid-Afrikaners onbekend en Evita's Funnigalore was die ideale voertuig om hulle op ‘n satiriese en humoristiese wyse voor te stel. Die twaalf gaste was: Joe Slovo, Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale, Patricia de Lille, Jay Naidoo, Frene Ginwala, Patrick Lekota, Mac Maharaj, Roelf Meyer, Pik Botha en natuurlik Nelson Mandela.
Evita het nie net met hierdie leiers onderhoude gevoer nie, sy het ook hulle intieme aspirasies, drome en passies gedeel. Sy het saam met Cyril gaan forelle vang, met Jay die tango gedans, haar affair met Pik voortgesit, saam met Jo geswem (in haar hamer-en-sekel-kostuum), saam met Patricia gaan ysskaats en die vryheid van haar geboortedorp, Bethlehem, saam met Terror ontvang.
Evita's Funnigalore was ‘n unieke konsep wat wêreldwyd die aandag getrek het. Dit is immers nie aldag dat ‘n staatshoof ‘n onderhoud toestaan aan ‘n man in ‘n rok nie! Daar is in Amerika, Engeland, Australië en verskeie Europese lande radio- en televisie-onderhoude met Pieter-Dirk Uys oor dié fenomeen gevoer. Dit was ‘n reeks enig in sy soort en een wat nie sommer herhaal sal word nie.
Kostrix
Kostrix was ‘n reeks kosprogramme wat in 1991 op die SAUK se joernaalprogram Antenne uitgesaai is. Dit is aangebied deur die legendariese Braam Kruger - kunstenaar, kos-kenner, kosskrywer en selferkende hedonis.
Pieter Cilliers was die regisseur van dié reeks wat oor die hele land heen geskiet is - van Orkney tot Thabazimbi; van Oudtshoorn tot Knysna, van Wakkerstroom tot Tzaneen. Dit was nie net ‘n gastronomiese reis nie, maar ook een waarin die land op sy beste gewys is.
Braam het op sy aweregse manier die kyker
nuut na kos en bestanddele laat kyk. Dit is gedoen teen agtergronde wat meeste van die tyd vir die regisseur en kameraspan ‘n uitdaging was. Dit was byvoorbeeld nie maklik om ‘n trop volstruise te laat toekyk, terwyl volstruisfillet voorberei word nie (‘n bietjie makaber, ja, maar fassinerend); of om vis gaar te maak op ‘n tafel wat in die seesand geanker is, terwyl die gety inkom nie. Maar die spanpoging het ‘n kosreeks opgelewer wat nuwe standaarde daargestel het wat die kulinêre belewing, sowel as die vasvang daarvan, op video betref.
Première
Première was ‘n uurlange vermaaklikheidsjoernaalprogram wat op Donderdag, 4 Februarie 1993 afgeskop het. Dit is vir ‘n jaar lank elke week regstreeks vanaf M-Net se ateljee 1 uitgesaai. Die program is deur Gillian van Houten geanker, terwyl Barry Ronge vir fliek- en teaterstories verantwoordelik was en Saira Essa verslag gedoen het oor sosiale gebeure. Die veldaanbieders was Coenie de Villiers en Zandile Nzalo.
1993 was die jaar wat die eerste demokratiese
verkiesing voorafgegaan het. Dit was die jaar wat die internasionale kollig na Suid-Afrika verskuif het. Die jaar wat ‘n nuwe era begin inlei het. Bekendes wat voorheen niks van die land wou weet nie, het skielik kom gesig wys. Suid-Afrika was die plek om te besoek en Première was die televisieprogram om op wees. Martin Sheen, Pierce Brosnan, Shirley Bassey, Ben Kingsley, Shirley MacLaine, Grace Jones, Twiggy, Bryce Courtenay en George Benson was maar net ‘n paar van die vele bekendes wat op die program verskyn het.
Andrew Norton het regstreeks vanuit Londen oor sy opspraakwekkende boek Diana, Her Own Story gesels. En die sogenaamde "Camillagate" en "Squidgy" bande, wat onderskeidelik Prins Charles se telefoongesprekke met Camilla Parker-Bowles en gesprekke tussen prinses Diana en James Gilbey bevat het, is eksklusief op Première uitgesaai.
1993 was ‘n jaar gekenmerk deur glansgebeure, onder meer die Mej. Wêreld- kompetisie wat by die Lost City aangebied was. En Première het oor almal verslag gedoen.
Dokumentêre programme
Van die borstrok bevry - 1997
Van Die Borsrok Bevry was ‘n dokumentêre program wat teruggeloop het op die spore van Afrikaanse reklame. Dit het advertensies in die gedrukte en elektroniese media ingesluit. Coenie de Villiers het die program aangebied en Lizz Meiring was die een wat van die borsrok ontslae geraak het. 
Dit was interessant om te sien tot hoe ‘n mate die politiek en gebeure van die dag reklame beïnvloed het. En flaters was daar genoeg, soos die advertensie van ‘n nuwe stoof: "Dié stoof gaan jou veras" - en dié van ‘n nuwe bra wat as ‘n "kwalitietsbra" aangebied is.
Verskeie reklame-pioniers en kopieskrywers het aan die reeks deelgeneem, onder meer Nick Tredoux, Madelet du Plessis, Harry Kalmer, Johan Roux, Hugo Grant, Len van Zyl en Thomas Oosthuizen.
Cilliers het in 1998 die ATKV-televisieprys vir Van die Borsrok Bevry ontvang.
My kind is in Londen - 2005
My Kind Is In Londen het die kollig laat val op Afrikaanse jongmense wat na skool vir ‘n jaar of twee in Londen gaan woon en werk het voordat hulle besluit het wat om met hulle lewens te doen. Anders as wat ‘n mens sou verwag, was die lewe in Londen vir die meeste jongmense ‘n ontnugtering.
Baie van hulle het in 2004/5 onder moeilike omstandighede gewoon, dwelms en losbandigheid was aan die orde van die dag en goeie werk was so skaars soos hoendertande. Konstruksiewerk en ander ongeskoolde arbeid was baie se voorland, selfs vir dié met grade.
Die verlange huis toe was immer teenwoordig en die
kerk en Suid-Afrikaanse kuierplekke moes die pyn verlig. Vir sommige was dit ‘n uiters negatiewe ervaring, vir ander het die meetsnoere in die regte plekke geval.
André Calitz was die regisseur en kameraman en Pieter Cilliers die ver-vaardiger. Hulle is in 2006 met ATK-Veertjies vir die dokumentêr bekroon.
Pieter Cilliers Produksies - 20 jaar van gehalte-produksies met die klem op persoonlike joernalistiek.


