'n Kas is vir klere
Met die verskyning van die eerste uitgawe van ‘n Kas is vir klere in 1997 is dit as ‘n baanbrekerswerk beskou. Die sogenaamde “coming out story” as sub-genre in die gay letterkunde was reeds goed gevestig in Engels, maar in Afrikaans was daar bittermin wat as sodanig beskou kon word.
Dat Cilliers se boek grensverskuiwend was – en ‘n hewige debat in die Afrikaanse kerke ontlok het - is ‘n gegewe. Wat verras het, was die gewildheid daarvan, in sowel gay as heteroseksuele geledere. ‘n Vloedgolf onverwagte onderskrywing en waardering vir sy eerlikheid om as een van Suid-Afrika se voorste TV-regisseurs vir die eerste keer te erken dat hy “anders” was – gay was – het vanuit uiteenlopende oorde gevolg.
Die gewildheid van ‘n Kas is vir klere kan grootliks toegeskryf word daaraan dat die skrynende gegewe oor Cilliers se desperate reis tot selfaanvaarding – toegelig met foto’s waar hy langs groot geeste verskyn, maar ook en veral by familie en vriende – die kollig gevestig het nie op sy “andersheid” nie, maar op ons gedeelde menslikheid.
Dis ‘n boek wat begrip gebring het, al lê daar vir menige gay persoon in Suid-Afrika (en die gesinne waarbinne hulle funksioneer) ‘n lang pad tot aanvaarding voor. Soos dr Willem de Klerk dit stel: “Elke mens moet sy eie vrede met God maak, ook oor seksualiteit”.
In ‘n resensie vir die tydskrif Insig skryf Johann de Lange tereg dat dit een ding is om “uit te kom” in die relatiewe veiligheid van fiksie, maar dat dit iets gans anders is om die soort boek te skryf wat Pieter Cilliers geskryf het. “Gans anders,” skryf hy, “ en veel dapperder”. Wat die boek o.a. vir De Lange en ander resensente interessant en boeiend gemaak het, was die feit dat dit geskryf is deur ‘n voormalige predikant. “Maar die skokkendste aspek van Cilliers se storie is nie die feit dat dit geskryf is deur ‘n eks-predikant nie, of sy verdoemende uitsprake teen die kerk nie, die skokkendste van Cilliers se storie is die ordinêrheid daarvan.”
Tog het resensente soos Cecile Cilliers – moontlik juis as gevolg van die “ordinêrheid” daarvan, die boek ervaar soos ‘n hou in die maag en dit aangeprys as ‘n outobiografie wat bsowel kerk as samelewing aanspreek. Belangriker was die invloed op die individu, die feit dat dit vir baie mense die deur oopgemaak het na ‘n eerliker, meer sinvolle bestaan.
Die vierde druk is uitverkoop, maar in die lig van die voortdurende aanvraag sal 'n nuwe bygewerkte weergawe, vroeg in 2011 verskyn. Vir meer inligting oor dié uitgawe kliek hier.
Navrae en bestellings
'n Kas is vir klere kan landwyd by enige boekwinkel bestel word.
Jy kan ook per e-pos 'n bestelling plaas by orders@onthedot.co.za
Vir verdere navrae of bestellings kontak:
Ria Engelbrecht by 011-789-6780 of
On the Dot by 086 166 8368
ISBN: 0 620 30779 X
PRYS: R89.95


