Volgende week op Kwêla
Nataniël kom kuier in die ateljee
Ons gesels met James en Anel Alexander, vervaardigers van die film, Semi-Soet, wat binnekort landwyd vrygestel word
Ons gesels met Ryan Sandes oor sy planne vir 2012
Hierdie week se Kwêla
Nuwe Bok-breier, Heyneke Meyer, kuier in die ateljee
Die land het met ingehoue asems op die groot nuus gewag en dit is uiteindelik bekend: Heyneke Meyer is die nuwe Springbok-afrigter. Daar is talle rugby-aanhangers wat ‘n sug van verligting slaak veral ná die span se Wêreldbeker nederlaag verlede jaar. Coenie gesels met Heyneke oor die groot taak wat voortaan op sy skouers sal rus.
Kurt Darren toer met sy Platinumtreffers
Dié musikant ryg die toekennings in en vandees-maand gaan hy op toer met 36 van die treffers wat sy blywende gewildheid verseker. Met sy Kaptein se Platinum Treffers-toer slaan hy ‘n hele nuwe rigting in. ‘n Vyfstuk-orkes en vier talentvolle dansers deel die verhoog en daar is ook nuwe materiaal te hoor. Kurt kom kuier in die ateljee en gesels met Coenie oor dié nuwe planne.
Niël Stemmet neem ons op ‘n (h)eerlike kosreis
Die skrywer, kurator en binnenshuise-versierder, Niël Stemmet, se nuwe boek, sout + peper is gebaseer op sy nostalgiese kos-en reisblog. Hiermee neem hy die leser op reis met stories, resepte wat van die een geslag na die ander oorgedra is en pragfoto’s. Niël vertel van die tyd toe kos heilsame happies was, sonder enige preserveermiddels of soppoeiers. Pieter het saam op die nostalgiese reis gegaan.
Ontmoet die musikale meester, Jaconell Mouton
Jaconell Mouton is aan kykers bekend as die vrou agter Die Musiekfabriek se klawerbord. Wat meer en meer mense algaande besef, is dat haar talent geen perke ken nie. Sy het haar merk gemaak as musikale regisseur en werk gereeld met groot name in die musiekbedryf soos die Grammy-wenner, Jeremy Lubbock, Nianell, Mauritz Lotz en Juanita du Plessis. Pieter het gaan uitvind wat haar dryf, en wat vir haar voorlê.
Loukmaan Adams vertel die stories van sy geboorteplek
Dié musikant en akteur het oor die jare groot hoogtes bereik. Een van die hoogtepunte is natuurlik David Kramer en Taliep Petersen se Kat and the The Kings waarmee hulle ook oorsese gehore gaande gehad het. Vanjaar is Loukmaan en sy ewe bekende broer, Emo, op die Suidoosterfees te sien in ‘n Plekkie in die Son - Mitchells Plain se mense. Verhale van dié inwoners word op ‘n deernisvolle uitgebeeld. Hy gesels met Coenie oor sy wortels en waarheen hy oppad is.
Drie avontuurlustiges vaar op ‘n unieke manier rondom Zanzibar
Reghardt Botes, Flip du Plessis en Christo Smeeda is altyd opsoek na ‘n volgende avontuur. So het hulle in ‘n regopstaande posisie elke dag 10 ure, vir 7 dae lank, rondom Zanzibar geroei. Maar die pretsoekers het dit nie net vir die uitdaging gedoen nie, maar ook om geld in te samel vir minderbevoorregte kinders. Hulle het vir Pieter gewys hoe dit gedoen word.
20 Hande vir Christa
Op Saterdag 25 Februarie gaan twintig hande uit een hart die klawers laat klink in Potch. Pukkunste, Artéma en Alabama-produksies gooi hulle kragte saam met 10 van die land se voorste en bekendste pianiste om die konsert “20 hande, 1
hart” op die planke te bring. Die konsert is ten bate van die baie bekende oud-Puk en oud-Alabama-lid, komponis en pianis, Christa Steyn, wat die afgelope 10 maande ‘n verbete stryd teen kanker veg. Die konsert word aangebied in die Sanlam-Ouditorium op die NWU-Puk-kampus met die ondersteuning van Yamaha Suid-Afrika en begin om 19:30. Kaartjies is reeds beskikbaar en kan gekoop word by Print Café in die Mooirivier Mall, Protea Boekwinkel op die Bult of Die Heimat-gebou (Gebou F9) op die NWU Potchefstroomkampus, asook via die internet gekoop word by www.artema.co.za. Vir meer inligting kontak gerus vir Chris de Bruyn by 018 – 299 2850.
20 Hande, 1 hart is ‘n unieke konsep waarin top pianiste uit verskillende klaviergenres in een program gaan optree. Hierdie kunstenaars sluit in Coenie de Villiers, Jeanine Neethling, wat die musikale regie van die jaarlikse Huisgenoot Skouspel hanteer en Clinton Zerf wat o.a. verantwoordelik was vir die musiekregie van die uiters suksesvolle musiekblyspel Stuur Groete aan Mannetjies Roux. Die immergroen Johan van Rensburg, oud-Alabama regisseur en jarelange musiekregisseur van die uiters gewilde tv-reeks Noot vir Noot en Jaconell Mouton wat ook in die Musiekfabriek-orkes speel, sal in aksie te siene wees. Vanuit die meer klassieke genre sal die baie bekende Wessel van Wyk en ons eie Truida Olivier, dosent aan die NWU-Puk Konserva-torium, aan die konsert deelneem. Die jazz-genre word verteenwoordig deur Ramon Alexander. Roelof Colyn, wat bekendheid verwerf het deur die produksie A Handful of Keys (wat al voor meer as 400 000 mense wêreldwyd opgevoer is), rond die kunstenaarspan af saam met die komponis Melissa van der Spuy. Die konsert wil op hierdie wyse ‘n bydra lewer tot die verligting van die mediese uitgawes wat Christa Steyn as gevolg van haar behandeling in die gesig staar.
Kwêla is in 2007, 2008 en in 2010 deur die
ATKV met ‘n Mediaveertjie bekroon as
Beste Afrikaanse Joernaalprogram
Alizia Linden het in 2011 weggestap met die
ATKV Media-Veertjie vir beste insetsel in 'n joernaalprogram
vir haar storie oor Sandra Laing
beste snaakse video's in Kwêla se jaarlikse Funnies Video-kompetisie. Besoek gerus ons
Volgende week op Kwêla
